top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Vroegherfs - NP Van Wyk Louw

Writer: Marina van der LindeMarina van der Linde

Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word; elke blom word vrug,

tot selfs die traagstes; en die eerste blare val

so stilweg in die rookvaal bos en laan,

dat die takke van die lang populiere al

teen elke ligte môre witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:

Laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en ver was van die pyn;

laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort

my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn.

コメント


bottom of page