
Teen die tyd dat ‘n mens in die spreekwoordelike “middel” van jou lewe aankom, daardie jare wanneer jy op ‘n dag besef dat jy nou langer jare agter jou het as voor jou, weet jy sonder twyfel dat die lewe nie eenvoudig is nie.
Teen daardie tyd het jy al té veel dinge beleef en nog meer gesien en het die lewe sy merk op jou siel gemaak. Sommige mense het al verskriklike dinge deurleef, en of dit waar is van jou of nie, het die meeste van ons maar ons letsels: dinge waaroor ons skaam of spyt is, dinge wat ons eerder wil vergeet maar nie kan nie en dinge wat ons permanent van ons onskuld en naïwiteit beroof het.
Dit is in hierdie fase van die lewe dat jy besef dat jy op geen manier kan terugkeer na wie jy vantevore was nie, dat jy ook dankbaar is dat jy nie meer daardie mens is nie, maar dat jy geen idee het hoe jy veronderstel is om die volgende fase van jou lewe te leef nie.
Hierdie is ‘n sensitiewe fase van ‘n mens se lewe, omdat dit die jare is wat bepaal hoe jy jou laaste jare gaan uitleef. Gaan jy toelaat dat die lewe jou verslaan en ‘n slagoffer word, wat ‘n skaduwee is van wie jy was? Gaan jy jouself so beskerm dat jy agter betonmure leef en toelaat jou hart klein en verskrompel word? Gaan jy stemloos, deurskynend, onsigbaar word, om so min as moontlik rimpels op die oppervlak van die lewe te maak? Of gaan jy begin om te groei rondom alles waardeur jy geleef het en meer word as dit, ruimer word, ‘n katedraal word wat lig en lewe en wysheid huisves?
In die week gebruik iemand ‘n pragtige beeld. Sy sê dat die swaarkry, pyn en teëspoed van die lewe soms soos ‘n hoop kraalmis voel wat die mooi bedding van jou lewe toe-lê. Die gedagte is dat daardie kraalmis met verloop van tyd sal kompos word. Dat dit in die grond van jou lewe ingewerk word om die ryk teelaarde te skep waaruit die volgende weergawe van wie jy besig is om te word kan groei, sodat jy, te midde van al die dinge van die lewe, kan gedy.
As dít stadig maar seker gebeur kan iets van Psalm 30 se woorde inderdaad oor die jare begin realiseer en kan daardie katedraal van my lewe wat uit die kompos gegroei het, hierdie loflied laat eggo:
“You have turned my mourning into dancing for me;
You have taken off my sackcloth and clothed me with joy,
That my soul may sing praise to You and not be silent.
O Lord my God, I will give thanks to You forever.”
Psalms 30:11-12 AMP
Marina van der Linde 2025
Comentários