top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Om God se stem te hoor: Nuwe fokus

Writer: Marina van der LindeMarina van der Linde



As jy hier lees, is jy waarskynlik iemand wat erns maak met die lewe. Daar is ook ‘n goeie kans dat jy al ‘n paar harde stampe en stote van die lewe weg het. Dit is natuurlik waar van alle mense – iewers beleef elke mens die skadukant van die lewe – en beslis nie net eenmalig nie!

 

Alle mense begin die lewe vanuit ‘n posisie van naïwiteit. Dit is waarom kinders ‘n mens so fassineer – hulle is ongeskonde en naïef. Maar dan begin die lewe gebeur en gaan ‘n mens deur verskillende grade van ontnugtering. As die ontnugtering eers begin het, kan ‘n mens verstom staan oor hoeveel ontnugtering in een lewe moontlik is! In hierdie ontnugtering lê daar ‘n enorme uitnodiging: ek kan toelaat dat ek gebreek word deur die lewe en onherkenbaar beskadig word of ek kan kies om met moeite, frustrasie, ongemak en pyn daardeur te groei en uiteindelik te kom by, wat Paul Ricoeur noem, ‘n tweede naïwiteit.

 

Tweede naïwiteit beteken onder andere dat ek geleer het wat ek kon leer en laat gaan het wat ek moes laat gaan, dat ek dalk effens versigtiger geword het, maar met heelwat meer wysheid optree. Hierdie is egter ‘n lang, intensionele en dikwels moeisame proses wat nie sommer vanselfsprekend gebeur nie. Daar is baie mense wat nie by tweede naïwiteit uitkom nie.

 

Daar is té veel mense wat té diep ontnugter is deur die lewe en die gevolg is hartseer. Wanneer ‘n mens eers begin om vanuit ontnugtering te leef, sukkel jy regtig om met diepte, passie en oorgawe te lewe en om intieme konneksies met God, ander en die lewe te ervaar. 

 

Een ding wat ons weer kan help om die dieper stem van lewe te begin hoor, sodat ons uit ‘n meer lewegewende stroom kan leef, is om op die “regte” dinge te begin fokus. Luister daarom na “podcasts” en musiek en lees daardie boeke wat jou gaan help om die fyn nuanses van God se stem te leer ken, omdat dit met jou eie siel resoneer en in harmonie is met dit wat van God se ander kinders ook oor hom leer ken.

Wees ook versigtig vir te veel slegte nuus en te veel sosiale media en hou dop watter gesprekke jou aftrek en watter ervarings die lewe uit jou suig en jou uitgemergel laat. Dit is weereens waar: “Where attention goes, energy flows”. Dit waarop ek fokus, bepaal sommer redelik vinnig watter soort energie deur my wese vloei.

 

Filippense 4:8-9 sê: “Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Dit beteken dat ‘n mens intensioneel kan begin om jou fokus en aandag na pertinente dinge te skuif, sodat daar ‘n ander soort lewenstroom in jou droë rivierbeddings kan begin vloei.

 

Om my ore uit te leen aan dinge wat my help om wel God se dieper, lewegewende stem te leer ken en wat drasties anders as die stem van die wêreld klink, is onontbeerlik as ek iemand wil wees wat vanuit diepte, passie, oorgawe en intieme konneksies leef. Mag jy sommer vandag al op iets inspirerend afkom wat vir jou nuwe fokus gee en jou help om God se stem te hoor.


Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page