top of page
Writer's pictureMarina Strydom

'n Onafgehandelde kunswerk


‘n Ruk gelede gesels ek met iemand in haar twintigs oor waar sy haarself tans in haar lewe bevind en sy sê: “Ek het nie te sleg uitgedraai nie.”


Na afloop van die gesprek dink ek dat ek ook so gedink het toe ek so oud was. En toe tref dit my dat ‘n mens waarskynlik nooit kan sê: “Ek het nie te sleg uitgedraai nie” of selfs “My lewe is ‘n gemors” nie. ‘n Mens kan hoogstens sê: Op hierdie stadium van my lewe is ek op ‘n goeie of op ‘n slegte of uitdagende plek. En die rede daarvoor is natuurlik dat ons nooit arriveer nie. Dat ons altyd op pad is en dat God se proses met ons, tot op die dag van ons dood, nooit ophou nie.


Ons ken die bekende Psalm 139 waar die Psalmskrywer sê: “U het my aanmekaar geweef in die moederskoot”. Dit sou ‘n mens kon laat dink dat God hierna weggestaan het, want die weefwerk was mos klaar. Maar dit is nie die geval nie. God is van die dag van ons ontstaan tot by ons dood kreatief betrokke by wie ons is en besig is om te word. Die weefwerk hou nooit op nie. Trevor Hudson sê dit aangrypend: “God has not put down those creative knitting kneedles!”


Ons skeppings- en vormingsproses is nooit klaar nie. Dag na dag, in alle lewensomstandighede, is die Here konstant besig met prosesse van lewe in ons en wag Hy vir ons om mee te gee aan die kreatiewe proses van vorming in ons. So dalk moet ons effens versigtiger wees om te dink dat waar ons nou is, is waar ons altyd gaan wees – goed of sleg.


Ons weet te goed dat die lewe in ‘n oogwink kan verander (na alle kante toe), wat maak dat ons ganse toekoms en manier van leef en wees en daarmee saam al ons drome en verwagtings van die lewe, anders lyk as wat ons gedink het dit gaan lyk. Maar meermale verander dinge nie in ‘n oogwink nie. Dit neem jarelange prosesse waar ek stelselmatig deur eksterne omstandighede en deur interne prosesse gevorm word. As ek dit toelaat – en deur Sy genade – vorm God my in iets mooier as wat ek self kon bedink.


So dalk kan ‘n mens op 95 sê: “Ek het nie te sleg uitgedraai nie”. Tot dan bly my lewe ‘n voortgaande en onafgehandelde kunswerk.

5 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page