
Groei is ‘n morsige storie. Ek weet nie wie by ‘n mens die idee geskep het dat groei hierdie romantiese en ideale proses is nie, maar dit is regtig nie. Een van die groot redes vir die morsigheid, is omdat my eie groei amper altyd ‘n ander mens behels. Die oorgrote meerderheid van groei vind in verhoudings plaas en die res in die realiteit van dinge wat die lewe oor jou pad bring. As ‘n mens maar in heilige afsondering, in stilte met jou boeke en kerse en mooi musiek kon groei en al heiliger word, sou dit fantasties wees, maar helaas is die voorkeur medium van groei realiteit en verhoudings.
Een van die vrae wat ek myself en ander gereeld hoor vra, is: “Moet dit so pynlik wees?” Dit is juis die ongemak van ‘n groeiproses wat ‘n mens laat wegskram daarvan. Om ‘n emosioneel en geestelik volwasse mens te word, gaan nie vanself gebeur nie. En om van ‘n laer na ‘n hoër vlak van volwassenheid te beweeg is altyd geweldig konfronterend. Daarvoor het ‘n mens ‘n gesonde, dapper en sterk ego nodig. ‘n Kwesbare, kleinserige en vermydende ego gaan jou nie hier help nie.
En hoe ontwikkel ‘n mens ‘n sterk ego? Dit is ‘n gesprek wat dae lank kan duur, maar ‘n mens begin altyd deur jouself en jou gedrag waar te neem en dit aan jouself te erken en verkieslik ook aan iemand anders. (Daar lê enorme bevryding daarin om dit hardop te sê. Elke keer wanneer ek “op myself split” kom ek agter dat my ego nie vergaan nie, maar dat ek sterker en vryer word.) Volgende moet jy dan op ‘n manier optree wat in lyn is met die rigting van groei waarheen jy op pad is en nie met ou, uitgediende reaksies en persoonlikheid strategieë nie, want dit laat ‘n mens net verder in die modder vasval.
Dalk kan ons teruggryp na een van Socrates se ou waarhede: “The secret of change is to focus all of our energy, not on fighting the old, but on building the new.”
Ongelukkig is selfs hierdie proses nie maklik nie, maar morsig. In verhoudings lyk ‘n groei ingesteldheid basies so: “We communiccate. We fix. We stay. That’s maturity.” Maar, en hierdie is ‘n belangrike maar: dit is net moontlik waar beide persone oop is daarvoor en hulleself volledig gee vir die proses. As een persoon nie wil kommunikeer en regmaak wat seergekry of verkeerd is en “committed” is tot die pad nie, kan die ander persoon dit onmoontlik op sy of haar eie regkry. As jy ‘n “enabler” of “empath” of “people-pleaser” is, moet jy dit mooi hoor: dit is nie ‘n werk vir een nie, maar vir twee.
Saam met verskeie ander invloedryke stemme in die psigo-spirituele benadering tot spiritualiteit, voel ek ontsettend sterk daaroor, dat geen geestelike volwassenheid moontlik is sonder emosionele volwassenheid nie. As jy dus op die punt staan van groot geestelike groei, gaan jy sonder twyfel gekonfronteer word met emosionele groei wat jou gaan forseer om dieper vlakke van ongesonde of gebroke of jarelange versteekte onverwerkte dinge uit te sorteer. Daarsonder is geen geestelike groei moontlik nie, want die twee loop hand aan hand.
Die bevryding waarna ons soek lê nie in die wegskram van die interne ongemak nie, maar in die gewilligheid om dit op die diepste moontlike vlak te hanteer en deur te werk. Die enigste manier om die spreekwoordelike blomtuin te hê waarna ‘n mens smag, is om jouself in die morsigheid van die grond waarbinne die blomme moet groei, te begewe.
Mag die Here vir jou al die genade en dapperheid gee wat jy nodig het om hierdie morsige groei storie op ‘n dieper manier aan te pak.
©️ Marina vd Linde 2024
コメント