top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Intiem teenwoordig


Die verhaal word vertel van ‘n soldaat wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op 'n eiland van sy eenheid geskei is. Die veldslag was hewig en in die rook en kruisvuur het hy kontak met sy kamerade verloor.


Alleen in die oerwoud kon hy vyandelike soldate in sy rigting hoor kom. Op soek na dekking vind hy sy pad teen 'n hoë rant op na ‘n aantal klein grotte in die rots. Vinnig kruip hy in een van die grotte in. Alhoewel hy vir die oomblik veilig was, het hy besef dat sodra die vyandelike soldate na hierdie redelike ooglopende skuilplek beweeg, sou hulle al die grotte deursoek en hulle sou nie sy lewe spaar nie.


Terwyl hy gewag het, het hy gepleit dat die Here hom sal spaar. Hy het stil gelê en luister hoe die vyand begin nader kom en besef die Here gaan hom nie uit hierdie een help nie. Terwyl hy skaars asemhaal, sien hy hoe 'n spinnekop 'n web oor die voorkant van sy grot begin bou het. Toe die vyand nader kom, het hy doodstil gelê en hulle vanuit die donker van sy skuilplek dopgehou. Hy kon sien hoe hulle die een grot na die ander deursoek.


Toe hulle ‘n entjie van hom af is en hy voel hoe die bloed deur sy ore bruis soos sy hart teen sy bors klop hoor hy hoe die leier van die soldate in die rigting van sy grot skree. Tot sy verbasing het hulle aanbeweeg.


Skielik besef hy dat met die spinnerak oor die ingang, lyk sy grot of niemand vir 'n hele ruk ingekom het nie. Daardie dag het God ‘n spinnekop gebruik om hom ‘n tweede kans te gee.


Dit is ‘n aangrypende storie wat ons duidelik wil vertel dat God sy kinders beskerm. Natuurlik weet ons dat God se beskerming nie altyd so werk nie. Trouens is daar baie voorbeelde waaraan ons elkeen kan dink van diep gelowige mense wat nie op die oog af deur God beskerm word nie en dan is daar weer verskeie ander voorbeelde van gelowiges wat wel ervaar het hoe die Here hulle uit onmoontlike situasies gehelp het. Ons weet regtig nie hoe dit werk nie, want daar is geen patroon as dit by hierdie dinge kom nie.

Soms voel ons God het gered en ander kere voel dit God het nie gered nie. Dit sou wel gevaarlik wees om vanuit ‘n sekere Godsverstaan te probeer om godsdienstige verklarings te vind vir waarom dit soms gebeur en soms nie. Om hiervan sin te maak is regtig nie eenvoudig nie selfs die mees geleerde teoloë en deurleefde wyses moet maar die skouers optrek en sê: “Ons weet nie”.


Wat ons wel kan sê is dat al verstaan ons nie hoe dit werk nie en al kan ons nie uitwerk waarom sommige mense soms tweede kans kry en ander mense nie, God steeds meer is as ons logiese verklarings.


Oor een ding hoef ons nie te twyfel nie, en dit is dat al gebeur wat, is die Here heeltyd daar: intiem teenwoordig.



Dalk word ons genooi om ons verstaan van “beskerm” uit te brei as iets dieper as net die tasbare, naamlik sy intieme teenwoordigheid, ook wanneer die ergste met ons gebeur.

0 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page